BD’S LOOP KRINGE IN DIE BOS

Voeg 87 energieke gr11 BD’s, heerlike herfsweer, die mooiste natuurskoon van Knysna en omgewing en ‘n paar entoesiastiese onderwysers saam en wat kry jy? Nog ‘n heerlike Kringe-in-die-Bostoer. Die tradisie waarna elke BD vanaf gr8 uitsien. Vanjaar was beslis geen uitsondering nie en die 2022 gr11-groep het mooi herinneringe vir ‘n leeftyd gebou. Dis moeilik om ‘n hoogtepunt uit te sonder, want alles was ‘n besondere ervaring. Sondag het hul Monkeyland, Birds of Eden en Jukani Wildekatpark besoek. Heerlik wors gebraai by Harkerville Forest lodge, wat ook hul verblyf vir die duur van die toer was. Maandag was ‘n staptoer en ‘n piekniek in die bos, asook besoeke aan die Wolfsanctuary en die Olifantpark aan die beurt. Die aand het hulle hul deftig opgetooi vir ‘n heerlike ete by Lookout restaurant in Plettenbergbaai. Dinsdag het hul met ‘n veerboot op die Knysna-meer tot by die Featherbed resort gevaar. Daar het viertrekvoertuie hul tot bo-op die kop geneem om die asemrowende uitsig van die riviermonding by die Knysna-koppe te kan beleef. Hul was gelukkig om selfs twee walvisse te sien. Daarna het hul ‘n pragtige roete seelangs aangedurf en vir oulaas lekker saam middagete onder die melkhoutbome geniet. Dit was voorwaar ‘n Kringe-toer om vir altyd te onthou.

Leave a Reply

Your email address will not be published.